Vulkaan Eyjafjallajökull

Eyjafjallajökull – ek probeer dit nie eers uitspreek nie. My Suid-Afrikaanse / Nederlandse tong sal nooit meer uit die knoop kom nie. ’n Blessiedse ding wat ons lewens op sy kop gegooi het. God-sy-dank sit ek by die huis en nie op ’n verre exotiese bestemming sonder geld nie (ja, die Bloue vergoed ons kostes wel agteraf  in so ’n geval maar jou banksaldo moet dit wel kan oorbrug – dis te veel gevra van myne) en jy sal maar een van die ongelukkiges wees wat in Bangkok of Lagos vassit – kan jy nie eers jou hotel uitgaan nie omdat dit te gevaarlik is. Maar so kan ek nog meer nadele bedink. As ek nie vlieg nie, kry ek ook nie daggeld (sakgeld) nie. En ek is nogal afhanklik van my daggeld om my salaris aan te vul want die lewe is duur in Nederland. Nou begin die aandele markte ook te protesteer. Dit kos die Bloue en ander maatskappye miljoene per dag as daar nie gevlieg kan word nie.

Dus, hierdie onverwagte “vakansie” is beslis nie een van ontspanning nie. My dag bestaan uit opstaan en gereedmaak asof ek moet gaan werk met die verskil dat ek nie my uniform aantrek nie, my koffer is gepak en gereed vir vertrek, en dan begin die wag en gluur na die informasie wat op internet via die Blou website gepubliseer word.  Hulle bel nie eers meer om te sê dat alles geannuleer is nie. Elke keer kom die uitstel tot ’n paar uur later – alles tot 2 uur geannuleerd. Dan gaan kyk jy maar weer wat die volgende verwagting is. Tot 6 uur alles geannuleer… Tot 8 uur alles geannuleer…. Vanoggend  om 7 uur het hulle besluit om tog maar te bel – ek het nog geslaap – net om te sê dat ek van 6 tot 10 standby is vandag en more ook. Dan volg darem 2 dae van vryheid en hoop op beterskap. En ondertussen vra ek my af of die Europese Unie nie oorbeskermend is nie. Die lug bo NL is stralend – geen rook of wolkie te vinde nie. 10 Proefvlugte is uitgevoer om te sien of dit veilig is – alle resultate goed. Die wind het gister ook al gedraai en waai weg van ons af. Maar nog steeds is ons lugruim afgesluit. Baie frustrerend.

Daar is darem ook ’n aangename kant aan hierdie ellende. Onverwags kon ek en Flip Saterdagmiddag na Essen in België ry na ’n tentoonstelling en veiling wat deur my vriendin, Laura, gereel is ten behoeve van ’n kinderopvangprojek in Suid-Afrika. Pragtige quilt en vilt kunswerke gesien –  deur ’n internasionale samewerking tot stand gebring. En natuurlik die geselligheid daarna met SA’se wyn, biltong en droë wors. Dit het tog ’n ligte kopseer gelewer op Sondag – sal my leer om voortaan op te let as my glas weer bygevul word deur ’n Kanadees. (Oulike vrou – sy moet net suiniger word met die wyn.) Blondie het al gewonder waarom die wyn innie glas nie opraak nie.

Sondagmiddag, nadat die koppie weer beter was, het ons van die stralende weer geniet en lekker met Flip se “brommer” gaan toer langs die kus. Sy 2 dogters was ook saam. Marit het ook ’n motorfiets. Dit was weer erg amusant om die jaloerse blikke te sien van mans langs die pad ook hierdie 2 chickies op ’n bike.

Met Jason gaan dit baie goed. Hy studeer hard en fees net so hard. Hy veroorsaak wel so nou en dan dat ek aan my gesonde verstand twyfel – die bietjie wat ek nog het. Soos ’n rukkie terug. Flip en ek het spesiaal Amersfoort toe gery waar ’n klein winkeltjie is met Suid-Afrikaanse produkte. Daar het ek my stukkie boere-goud, Mrs. Balls se chutney gekoop en julle weet: goud is kosbaar, dus was ek suinig met my goud. Toe, ongeveer ’n week of 2 gelede het ek weer daai groot lus gekry vir my goud. Waar is my goud? Weg! Was dit dan al klaar? Onverklaarbaar! Ag ja, sal maar weer pad moet vat Amersfoort toe.

Maar verlede woensdag het Jason en Kaj ons uitgenooi vir ete en boeta, die hoender was lekkerrrr. “Jislaaik Jason, waarmee het jy die hoender gemarineer? Gee my die resep jong.” Jason: “Nee, met ’n bietjie ketsjup.” En sê Kaj: “Ja, ook ’n bietjie van daai sous wat Jason laas onder sy arm gesmokkel het toe hy sy fiets gaan haal het in Sassenheim toe julle nie tuis was nie”.
Ek oorweeg dit ernstig om my chutney terug te gaan gaps!

Plaats een reactie